Die Slag van Bloedrivier is op 16 Desember 1838 naby die Bloedrivier in die huidige KwaZulu-Natal, Suid-Afrika, geveg. Sowat 470 Voortrekkers, onder leiding van Andries Pretorius, het 'n ossewalaer beskerm teen tussen 10 000 en 20 000 Zoeloe-impies. Die Zoeloekrygers, onder Koning Dingaan se regering, is aangevoer deur Dambuza (Nzobo) en Nhlela.
Op 15 Desember
1838 het die Voortrekkers inligting verkry dat 'n groot Zoeloemag op
pad was. Pretorius het 'n uiters goeie gevegsterrein langs die
Bloedrivier (toe die Ncomerivier) gekies, waar die ossewaens in 'n laer
getrek is. Ten spyte van mis wat die aand oor die omgewing neergedaal
het, was dit die volgende oggend helder. Voor die slag begin het, het
die Voortrekkers 'n gelofte voor God afgelê dat, sou hulle gespaar word, hulle 'n kerk sal bou en die dag as 'n sabbat herdenk en hulle kinders van God sal vertel.
Die Zoeloes het herhaaldelik die laer onsuksesvol aangeval, todat
Pretorius ná twee uur 'n groep perderuiters beveel het om die laer te
verlaat en die Zoeloes aan te val. In die struweling het Pretorius ook
'n assegaaiwond aan sy linkerhand opgedoen.
Ten spyte van die feit dat die Voortrekkers vuurwapens teen die
Zoeloes se assegaaie gebruik het en 'n goeie ligging gehad het, het
hulle steeds geglo dat hulle nie sonder God se hulp sou kon oorleef nie.
Die Britse weermag het met duisende opgeleide soldate met selfs beter
vuurwapens teen die Zoeloes geveg en die meeste Britse soldate het in
die geveg omgekom. Uiteindelik is slegs drie Voortrekkers gewond en geen
dood nie; dít teenoor meer as 3 000 Zoeloekrygers wat gesterf het. 16 Desember is 'n openbare vakansiedag in Suid-Afrika; voor 1994 was dit as Geloftedag bekend, en tans as Versoeningsdag.