Riseingsouthernstar-Africa Link Banner

Wednesday, 01 May 2013

Wie is die “Geloftevolk Republikeine”

Ons is die enigste volk wat met ons Hemelse Vader geloftes gesluit het – vandaar die naam Geloftevolk Republikeine.

Die Geloftevolk  was in die verlede, maar bly ook in die toekoms verbind met die Skepper van Hemel en aarde; die God van Abraham, Isak en Jakob.

Ons herdenk  en kom die geloftes wat ons voorvaders, die Boervolk, met ons God aangegaan het na,  naamlik :
  • Die gelofte van Jan van Riebeeck  -  6 April 1654
  • Die gelofte van Sarel Cilliers  -  9 -15 Desember 1838
  • Die gelofte van Paardekraal  -  11 Desember 1880

Geloftevolk Republikeine is ‘n volk in eie reg met sy eie taal, eie godsdiens en eie kultuur en sal  vreesloos op elke manier denkbaar volhard om te veg vir die  soewereiniteit en voortbestaan van die Boervolk. Unieke eienskappe van Die Boervolk is ‘n ewigdurende  geloof en nouste verbintenis met God, gasvryheid, vriendelikheid, toewyding, vredeliewendheid, streng dissipline, 1ste wêreld standaarde,  streng  beskaafde etiese norme en morele waardes getrou aan uit die Heilige Skrif en ‘n onblusbare strewe na vryheid sodat die Boervolk oor homself kan regeer in ‘n eie vaderland.

Die Geloftevolk Republikeine erken elke volk se reg op selfbeskikking en eis dit ook onwrikbaar ten opsigte van die Boervolk. Geloftevolk Republikeine sal hul NOOIT vereenselwig, of tuis voel nie in ‘n land van  moord (in SA 50 mense per dag), die barbaarse, onbeskaafde wreedheid van plaasaanvalle, toenemende verkragtings, roof, huisbraak, korrupsie, wetteloosheid,  miskenning van wettige eiendomsreg, SA se  status van misdaadhoofstad van die wêreld en kwynende infrastruktuur wat duidelik die seën en goedkeuring van die etniese volke in Suid-Afrika wegdra, maar onaanvaarbaar is vir ‘n ontwikkelde volk soos die Boervolk.

Die meer as ‘n miljoen volksgenote  van die Geloftevolk  wat sedert 1994 uit SA gevlug het, is ‘n tragiese verlies van kundigheid vir die Boervolk. Geloftevolk Republikeine is verbind tot die versorging van die 600 000 volksgenote wat werkloos in plakkerskampe sonder werk verhonger. Daardie mense bly bloed van die Boervolk se bloed en hulle is die naaste en volksgenote van die Boervolk, totdat hulle uit vrye keuse by ‘n ander volk aansluit.

Indien daar Afrikaners/Afrikaanses is wat hulleself beskikbaar stel vir assimilasie in die Suid-Afrikaanse nasie wat “in aanbou” is, staan dit hulle vry om, (soos wat enige persoon die reg het) self te besluit waar en in watter omstandighede hy/sy wil woon en waar burgerskap aanvaar word.  Geloftevolk Republikeine streef die herstel van ‘n vrye Boere- Republiek na -‘ n eie land waarin die Boervolk homself kan regeer, sy eie  hoë standaarde kan instel, sy eie waardes kan uitleef en die Boervolk se voortbestaan noodwendig volgens die beginsels en riglyne van die Heilige Skrif,  kan uitbou.

Die Geloftevolk  Republikeine is trots op die Boervolk se roemryke volksgeskiedenis en is nie bereid om die hand van God te misken in al die veldslae wat met Sy hulp gewen is deur die Boervolk se voorvaders nie. Soos die republikeine weggetrek het uit die Britse onderdrukking in die Kaap (1837), soos die republikeine in twee vryheidsoorloë geveg het teen besetting deur  imperiale kolonialiste, soos  republikeine in 1948 die oorwinning behaal het by die stembus, so sal die Geloftevolk Republikeine ywerig en doelgerig werk om onder die gesag van vreemde volkere uit te kom en die verwesenliking van soewereiniteit/selfbeskikking vir die Boervolk met toewyding en vasbeslotenheid, volhardend  vasberade te bewerkstellig.

Die Geloftevolk Republikeine verklaar :
ONS GLO:
  1. in God die Almagtige,- Skepper van hemel en aarde;
  2. in die Wet van God as riglyn om gelykvormig te word aan Sy Seun;
  3. en bely dat die God van Abraham, Isak en Jakob, ons God is en dat Sy Seun vir ons sondes gesterf het, sodat ons vir ewig kan lewe in liggaam en dan in gees;
  4. dat ons die reg het om ons God, ons volk en ons kultuur binne ons eie vaderland te dien en oor onsself te regeer;
  5. en ons ag onsself gebonde aan die Gelofte van Jan van Riebeeck, van Bloedrivier en van Paardekraal wat deur ons voorvaders afgelê is;
  6. dat ons volk in Suid Afrika se veelvolkige verkiesings net van een gevolg seker is – naamlik dat daar nie eens die geringste kans is om te wen, sodat ons volk se belange kan voorrang geniet nie;
  7. dat ons onsself moet voorberei teen die dreigende en toenemende aanslae op die lewens van ons Boervolksgenote en ons Boervolk se voortbestaan, sodat ons onsself kan verdedig in die Naam van ons God;
  8. dat die verlede bewys het dat ons, die Boervolk, in staat is om oor onsself te regeer in ‘n soewereine staat en dat slegs die vernietigingsdrang en die hebsug van die huidige regering, in ons pad staan om ‘n eie vaderland te verkry;
  9.  dat ons geroepe is om ons Boervolk uit te lei uit die misdaad nes waarin die Boervolk homself bevind;
  10. dat ons krag in die eerste instansie in ons Skepper lê en dat slegs ‘n gesamentlike poging van al ons volksgenote om ons Boervolk te bevry (van die juk van die vreemde volke onder wie se heerskappy ons staan), ons vryheid kan bewerkstellig;

BEKERING –BESKERMING – BEVRYDING  dit  is  die  pad  wat  ons  gaan  loop.

No comments:

Post a Comment